Die Afrikaanse Christenkerk van Nieu Seeland is gebore uit ‘n begeerte om God in eie taal en idioom te aanbid. ACK Howick het ‘n onafhanklike gemeente geword op 2 April 2006 met ‘n permanente leraar wat beroep is in die persoon van ds Louis Fourie. Hy is in 2009 opgevolg deur ds Freek Terblanche wat tans die leraar van die gemeente is.Ons vind as gemeentelede van ACK Howick ons identiteit in Christus. Ons is ‘n geloofsfamilie wat behoort aan Jesus Christus. Ons deel as lidmate in Sy genadige redding en word gelei deur Sy Gees. Ons begrip en verstaan van onsself lei daartoe dat daar ‘n baie hoë premie geplaas word op die Woord van God. Ons leer Sy wil ken en in die proses ook onsself. Hierdie proses vind plaas deur middel van prediking, skolingsgeleenthede soos die Bybelskool, kleingroepsbyeenkomste en kategese.Eredienste vind weekliks in Howick sowel as Pukekohe plaas. Die klem lê op Skrifgetroue en aktuele prediking. Die sakramente van Doop en Nagmaal word in die gemeente bedien. Beide doopgestaltes word onderskryf naamlik Verbondsdoop sowel as Bekeringsdoop.As geloofsfamilie kom ons byeen tydens skolingsgeleenthede, kleingroep byeenkomste, funksies en kampe. Manne en vroue het ook afsonderlike aksies wat ten doel het om op spesifieke behoeftes toe te spits. Die Jeug is self verantwoordelik vir Jeugdienste en bediening. Die ouer garde ontmoet maandeliks tydens ‘n Super 60 byeenkoms.Die Gemeente word bestuur volgens die Presbiteriale regeringstelsel. Dit beteken dat ‘n Kerkraad bestaande uit geloofsleiers die verantwoordelikheid het tov daaglikse bestuur. Dit word dan bekragtig tydens Gemeentevergaderings. Die Gemeentetrust wat bestaan uit die kerkraad, is verantwoordelik vir die besluite tov finansies.Ons vorm ook deel van die groter ACK familie. Die gemeente is deel van die kerkverband wat ook bilaterale bande met kerke in Australië en Suid-Afrika het.Ons roeping is na die stad, plaaslike omgewing en die wêreld. Ons is betrokke by ‘n verskeidenheid projekte plaaslik sowel as in Suid-Afrika en Japan.
Christene wat graag saam met ons die Here God wil aanbid, is welkom om in te skakel by die gemeente. Mag Hy elkeen wat hierdie woorde lees, ontmoet en seën.