• Sign in

Gereformeerde Protestantse Kerk Brakpan
6 years ago

Galasiërs 1:1-5 - Wanneer die Evangelie aangeval word, begin ons hier: Ons fokus op Christus

INLEIDING

Die brief aan die Galasiërs is geskryf na die afloop van die eerste sendingreis van Paulus en Barnabas. In Handelinge 13-14 lees ons hoe Paulus hulle die Evangelie gaan verkondig het op die eiland Siprus en ook in Klein-Asië.  Tydens hierdie reis het hulle skerp teenkanting ontmoet van die Jode se kant af, soveel so dat Paulus selfs in Listra deur die mense gestenig en vir dood gelaat is (Hand. 15:19). 


Nadat Paulus hulle terug gekeer het na die gemeente wat hulle uitgestuur het, het hy nuus ontvang dat daar valse leraars was wat ‘n ander Evangelie aan hierdie nuwe gelowiges verkondig het na hulle vertrek. ‘n Evangelie wat leer dat jy jou verlossing kan verdien deur die na kom van wette en rituele. Om hierdie rede skryf Paulus dan die brief aan die Galasiërs. 


In hierdie brief kom verdedig die apostel die ware Evangelie wat deur hom, Barnabas en die apostels verkondig was. Tog is die verdediging van die Evangelie nie iets wat uitgesterf het nie. Deur die eeue heen word die ware Evangelie aangeval en ondermyn deur ‘n legio van valse, nikswerd evangelies. Daarom, wanneer die Evangelie aangeval word, begin ons hier: ons fokus op Christus!


Dit is presies waar Paulus dan ook in die openingsverse van sy brief begin: hy begin by Christus, die Een wat:

·       Vir ons sondes gesterf het;

·       Deur die Vader opgewek is;

·       Die raadsplan van God vervul het. 


Wanneer die Evangelie aangeval word, begin ons hier: ons fokus op Christus – die Een wat vir ons sondes gesterf het. 


CHRISTUS HET VIR ONS SONDES GESTERF

Die apostel Paulus begin sy brief deur klem daarop te lê dat hy ‘n apostel is van Jesus Christus, die Een wat vir ons sondes gesterf het. Hy skryf in vers 4 dat Jesus Christus “Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld ...”. 


Christus het Homself vir ons sondes gegee. Die kruis van Christus was nooit net ‘n opsie nie, maar ‘n noodsaaklikheid. Jesus Christus moes aan die kruis vir ons sondes sterf, want sonder die kruis is daar geen verlossing moontlik nie. Daarom is die kruis en die kruis alleen die hartklop van die Evangelie. Sonder die kruis is die Evangelie dood en kragteloos en kan dit niemand red nie. Soos Paulus dit later ook goed opsom in 1 Kor. 2:2: “Ek het my voorgeneem om oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel ook Hom as die Gekruisigde.”


Daarom, daar waar die kruis verkondig word, is daar altyd hoop – hoop vir sondaars soos ek en jy. Laat ons dit goed verstaan: ons is sondaars en ons kan nie onsself red nie, maar nie saak hoe hard ons probeer nie. Niks wat ons kan sê of doen kan ons sondes uitvee nie. Ons sondes kan ook nie uit gebalanseer word op ‘n weegskaal met goeie dade nie, want selfs ons beste dade is besmet met sonde, omdat ons hart sondig is. Daarom wanneer ons ons beste dade voor God bring en die hoop dat dit ons sondes sal uitkanselleer, word daardie einste dade waarop ons vertrou juis op die skaal van sonde geplaas. 


Ons het dus iemand nodig wat ons sondes kan wegneem – en dit is Jesus Christus, die Een wat Homself vir ons sondes gegee het. Aan die kruis het Christus al ons sondes – elke verkeerde gedagte, woord, daad, gesindheid, emosie, motief, ens. – van ons weegskaal kom vat en met dit aan die kruis gaan hang. Daar aan die kruis het die Vader ‘n ewigheid se straf wat ek en jy verdien het, kom uitgiet oor sy Seun. Op hierdie manier het Hy ons kom verlos ... verlos van ons sonde, sodat ons nou vir Hom kan lewe; verlos van die Bose, sodat ons onder sy heerskappy kan buig; verlos van die oordeel, sodat ons nou in ‘n herstelde verhouding met die Vader kan lewe. Ja, die Seun van God het neergedaal om deur sy kruis die verlore seuns en dogters van die Vader terug te bring na die Vaderhuis. 


Daarom, moet die vraag gestel word: waarop of op wie fokus jy vir jou verlossing? As jy fokus op jouself, sal jy nie die ewige lewe instap nie, want jy is ‘n sondaar. As jy fokus op jou dade, sal jy nie die koninkryk beërwe nie, want jou beste dade is met sonde besmet. As jy vertrou op ander, sal jy die nuwe aarde nooit sien nie, want alle mense het gesondig en staan skuldig voor die Here. Maar as jy fokus op Christus, is daar hoop. Hy het immer belowe: “... Ek sal hom wat na my toe kom, nooit verwerp nie.” (Joh. 6:37).


Dus, wanneer die Evangelie aangeval word, begin ons hier: ons fokus op Christus wat vir ons gesterf het. Maar verder, ons fokus ook op Christus wat uit die dood opgewek is.


CHRISTUS IS DEUR DIE VADER OPGEWEK

Paulus skryf in vers 2: “... Ek is ook nie deur ‘n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het.”


Die kruis sou geen krag vir verlossing gehad het, as die Vader nie ook die Seun uit die dood opgewek het nie. Soos Paulus later in 1 Kor. 15:17 dit baie duidelik stel: “En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sonde.”


Ons hoor vandag baie stemme wat beweer dat jy ‘n “Christen” kan wees, sonder om in van die kernwaarhede van die Christelike geloof, onder andere die fisiese, liggaamlike en sigbare opstanding van Christus, te glo. 


Maar sonder die leë graf, beteken die leë kruis vir ons niks. Waarom? Omdat die opstanding van Christus juis bevestig dat die Vader sy offer vir ons sondes aanvaar het. Toe die aarde gebewe het daardie Sondag oggend na die kruisgebeure, was dit ‘n bevestiging dat die Vader saam met die Seun sê: “Dit is volbring!” Alles wat nodig was om ons uit die slawerny van die sonde, die Bose en die dood te verlos, is gedoen en aanvaar. Die Vader het die losprys vir jou en my uit die hand van sy Seun aanvaar. 


Daarom is enige evangelie wat nie die kruis en leë graf verkondig nie, of dit afwater tot ‘n sy saak, of dit vervang met enige menslike voorkeure, ‘n dooie, nuttelose en leë evangelie wat niemand kan red nie. Daarom, wanneer die Evangelie aangeval word, begin ons juis hier: ons fokus op Christus, die gekruisigde en opgestane Here! Want die kruis en die leë graf is die hartklop van die ware Evangelie. 


Maar laastens, ons fokus op Christus ook omdat Hy die raadsplan van die Vader volbring het.


CHRISTUS HET DIE RAADSPLAN VAN GOD VERVUL

Die apostel sluit vers 4 af met die woorde: “... en so (dit wil sê deur sy dood en opstanding) die wil van God ons Vader te volbring.”


Met hierdie woorde bevestig Paulus dat die kruisgebeure nooit ‘n plan B was nie. Dit was van die begin as die Vader se plan A vir jou en my. Toe God die mens gemaak het, het Hy geweet dat die mens sal sondig. Waarom Hy toegelaat het dat die gebeur weet ons nie. Dit is deel van die geheimenis van God se alwysheid. Maar die feit bly, dat God nog voor die skepping van die wêreld besluit het dat sy Seun in die geskiedenis mens sou word en aan ‘n kruis vir jou en my sonde sal kom sterf. Soos Paulus dit stel in Ef. 1:4-5: “So het Hy (die Vader), nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.”


Die kruis sou die goue draad wees wat deur die beloftes van God sou vloei. Die belofte van die koms van die Een wat die slang se kop sou vermorsel, Gen. 3:15, het gewys na die kruis. Die belofte dat al die nasie in Abraham geseën sal wees, Gen. 12:3, het gewys na die verlossing aan die kruis wat sou uitkring na alle volke, tale en nasies. Die belofte van die koms van die Dienskneg wat as Plaasvervanger sou ly, Jes. 53:1-7, het gewys na die kruispad. 


Die kruis, die kruis, die kruis ... dit was God se plan van voor die begin van die wêreld af. Daarom is dit die hartklop van die ware Evangelie!


Dus, hoe toets ons of ‘n boodskap die ware of ‘n valse Evangelie is? Ons gaan luister na wat die rol van die kruis is. As daardie evangelie die kruis afwater om vir jou net geluk en voorspoed hier op aarde te verseker, is dit vals. As daardie evangelie die kruis verminder van ‘n noodsaaklikheid tot ‘n opsie in jou lewe, is dit vals. As daardie evangelie die kruis afmaak as maar net God se “plan B”, dan is dit vals. Die kruis is die hoofslagaar, die hart, die asem vir die ware Evangelie – sonder die kruis is eie Evangelie dood!


Dus, wanneer die Evangelie aangeval word, begin ons hier: ons fokus op Christus, die gekruisigde en opgestane Here, wat die raadsplan van die Vader volbring het. 


SLOT

Ons lewe in ‘n tyd waar die ware Evangelie nie ‘n populêre boodskap is nie. Mense wil nie hoor dat hulle sondaars is nie. Hulle wil nie hoor dat hulle skuldig staan voor God nie. Hulle wil nie hoor dat die hel ‘n werklikheid is nie. Maar hulle moet. Ons moet ten alle koste die ware Evangelie verkondig en standpunt in neem wanneer dit aangeval word. 


Maar dit kan ons net doen as die Evangelie ons hart verander. Want ook jou en my sondige hart skop teen hierdie Evangelie en sou maklik dit verruil vir ‘n valse as dit die kans gegun word. Daarom, wanneer die ware Evangelie aangeval word, moet ons ons eie hart beoordeel en ons eie fokus reg kry. Ons moet fokus op Christus, die Een wat vir jou en my sonde gesterf het, vir ons die dood oorwin het, en so die raadsplan van die Vader vir ons verlossing volbring het. Dan sal ons ander kan help om hulle fokus ook reg te kry en getroue soldate van Christus wees op die slagveld van die geestelike stryd. Amen.