• Galasiërs 2:15-21 - Wanneer die Evangelie aangeval word, dan hou ons vas aan Christus

    INLEIDING

    Suid-Afrika, soos ander lande oor die wêreld, beleef tans ‘n grendelstatus. ‘n Toestand waar baie mense gevangenes in hulle eie huise geword het. Maar gelyklopend aan hierdie grendelstatus is daar ook ‘n groeiende bewustheid van wat vryheid beteken. Die spreekwoord “Jy weet nie wat jy het, totdat jy dit verloor het nie” is besig om onder die vel van baie mense vandag in te kruip om hom tuis te maak.


    Tog is hierdie grendelstatus ook ‘n padaanwyser op die kruispaaie van die wêreld wat na ‘n ander grendelstatus wys ... die grendel of kettings van sonde. Die probleem is, soos baie vandag nie na die padaanwysings luister nie, so wil mense ook nie na die padaanwysers van die Skrif luister wanneer dit kom by die gevare van die sonde nie. Die harde harte van mense ignoreer die waarskuwings van die Skrif en glo dat hulle sélf dinge wat met die sondeval verkeerd geloop het, reg kan maak. In plaas daarvan dat hulle na die Verlosser wat deur die Skrif verkondig word, soek; maak hulle vir hulself mensgemaakte evangelies en stel hulle vir hulself valse leraars aan om hulle sondige harte in die gehoor te streel: evangelies wat sê dat die mens die grendels van die sonde self kan breek en daaruit kan ontsnap. Maar hierdie is leë evangelies, wolke sonder water, ontwerp om die ware Evangelie aan te val. 


    Maar dit is juis in hierdie tyd waar die ware Evangelie in die spervuur en die teiken van valse evangelies is, waar om moet vashou aan Christus, die Anker van ons geloof en die Verlosser uit sondes. 


    In die brief aan die Galasiërs verdedig Paulus juis hierdie Evangelie deur te wys dat daar geen ander Verlosser of weg tot verlossing is nie, behalwe in en deur Jesus Christus alleen. In hierdie verse wys die apostel op twee weë waarlangs mense stap: dié van die ware Evangelie of dié van die wet en verlossing uit werke. En elkeen van ons is op een van daardie weë. Maar hy stop nie daar nie, hy wys ook daarop dat, as ons wandel op die weg van die ware Evangelie, ons vry word om tot eer van God te lewe. 


    TWEE WEË

    In Galasiërs 2:16 beskryf die apostel twee weë in hierdie lewe: aan die een kant die weg van die wet; aan die ander kant die weg van die ware Evangelie van verlossing in Christus. Hy skryf: “En tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie” (Gal. 2:16).


    Die weg van die wet

    Paulus verwys na die wet as een van die wyse waarop mense hulself probeer verlos. Hierdie weg kan een van ‘n paar vorme aanneem:

    • Dit kan geplavei wees met die mooi, blink, skitterende stene van “godsdienstigheid” soos dit dan ook hier in Galasiërs beskryf word. Blink stene van “nakom van wette” en “godsdienstige pligpleging” vorm hierdie pad. Die Jode was veral lief om hierdie paadjie te kies met hulle sienings rondom die besnydenis, reinheidsgebruike en nakom van reëls. Maar steeds vandag kies mense hierdie paadjie. Hulle metgeselle is Mnre. Ek lees Bybel, Ek bid en Ek kom in die kerk.  Hulle vertrou op hierdie metgeselle om hulle veilig by die Hemelstad te bring en hulle vry te maak van die bande van sonde. 
    • Ander volg weer die paadjie wat geplavei is met die stene van  “voorbeeldigheid”. Reisigers op hierdie pad bevind hulle dikwels in die geselskap van Mnr. Selftevredenheid en sy vriend Mnr. Fariseër. Mense wat hierdie pad kies, dink dat hulle hul verlossing kan verdien deur ‘n goeie lewe te lei. 
    • Dan is daar ook ‘n derde paadjie; nie so mooi soos die ander twee nie, en maar nog net so gesog soos die ander, nl. die pad van ontkenning. Hierdie paadjie is geplavei met gladde swart stene wat gelê was deur Mnr. Ateïs. Reisigers op hierdie pad is gewoonlik van mening dat daar nie iets is soos ‘n dag van oordeel, ‘n hel of lewe na die dood nie. Daarom is hulle van mening dat verlossing en ‘n Verlosser nie nodig is nie. Wat hulle dikwels miskyk is dat terwyl hulle op hierdie gladde pad stap, die kettings van sonde aan hulle voete hul verhinder om gemaklik te beweeg. 


    Maar vanuit die pad van die wet is daar net nie hierdie nie, maar talle ander paadjies wat lei na die stad “Selfverlossing”. Maar soos die Spreuke digter dit ook tereg stel: “Daar is ‘n lewenswyse (lett. ‘’n weg’) wat vir die mens reg lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood.” (Spr. 14:12, 16:25).


    Al hierdie paaie en afdraai paadjies is vals en lei na die dood of anders gestel: die ewige verdoemenis. Hierdie paaie kan niemand red nie, soos Paulus ook hier duidelik sê: “... geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie” (Gal. 2:16). Waarom? Omdat die standaard vir verlossing nie mens gemaakte wette of pogings om goed te lewe is nie; maar volmaakte en volkome onderhouding van die wet van die Here in gedagte, woord en daad onder alle omstandighede is. Dus, as jy één keer in jou lewe gelieg het of kwaad geword het (want kwaad word is moord in die hart – Matt. 5:21-22) of enige ander gebod oortree het, kan jy nie deur die wet gered word nie, want jy het klaar die wet oortree. Die oordeel van die wet hang klaar soos ‘n valbyl oor jou gereed. Daarom, is die enigste weg tot verlossing wat vir die mens oop is, die weg van die Evangelie ... die weg wat lei na die kruis ... die weg wat lei na Christus. 


    Die weg van die Evangelie

    Teenoor die weg van die wet, stel Paulus die ware weg na verlossing. Die padkaart na hierdie pad is die Evangelie en die poort daarna is Christus. Dit is smal, reguit en het die kruis van Golgota as baken. Alleen deur op hierdie pad te stap, kan ons die vryspraak ontvang – die verlossing van die kettings van sonde. 


    Daarom skryf die apostel in Galasiërs 2:16: “En tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo...”. Hierdie verlossing, hierdie vryspraak van sonde en oordeel, kan ons net ontvang deur die geloof in Jesus Christus alleen en nie deur enige iets te doen of deur dit te probeer verdien nie; maar “alleen deur in Jesus Christus te glo” (Gal. 2:16)


    Vandag is daar baie mense en leiers wat meen dat dit nie saak maak wát jy glo nie, maar eerder net dát jy glo. Hierdie mense staan langs die reguit pad wat lei na die ewige lewe en probeer pelgrims weg lok na afdaal paadjies. Slagspreuke soos “almal dien dieselfde God”, “almal sal mos in die hemel kom” en “dit sal jou mos nie uit die hemel hou nie” is deel van hierdie misleiers se boodskap. 


    Maar die apostel Paulus stel dit baie duidelik hier in Galasiërs 2:16 en verder dat daar maar één ware Evangelie is en één ware Verlosser, naamlik Jesus Christus wat vir my sonde gekruisig is (Gal. 2:19). Hy alleen is die Weg, die Waarheid en die Lewe en niemand kom na die Vader toe behalwe deur Hom nie (Joh. 14:6). Daar is alleen maar net één Middelaar tussen God en die mens, naamlik Jesus Christus (1 Tim. 2:5). En daar is net Één deur Wie ons gered word, naamlik Jesus Christus (Hand. 4:12). 


    As jy aan enige iets anders vashou as aan die verlossingswerk van Jesus Christus aan die kruis op Golgota, en as jy enige iemand of iets ander volg behalwe Christus, is jy verlore en op pad na die ewige verdoemenis; want vryspraak en verlossing van sondes is by niemand anders te vind as by Jesus Christus nie. ‘n Verlossing wat ons omhels met die ope arms van die geloof. 


    Maar twee weë beteken dan ook noodwendig twee lewenswyses.


    WANDEL TOT EER VAN GOD

    In Afrikaans het ons die spreekwoord: “As jy op twee stoele wil sit, val jy deur.” Hierdie is ook waar van die twee weë waarop die apostel Paulus hier dui. Jy kan nie op beide die pad van die wet en die pad van die Evangelie wandel nie – dit is óf die een óf die ander. Hierdie twee paaie loop nie parallel aan mekaar nie, al wil dit by tye vir die pelgrim wat nie waaksaam is nie, so wil voorkom. 


    Paulus wys vir ons hier in Galasiërs 2:17-21 dat as jy op die nou pad van die Evangelie wandel en Christus jou Verlosser en Koning is, hy nie meer in diens van die wet lewe nie. Hy skryf in Galasiërs 2:19: “... deur die wet is ek vir die wet dood ...”. Hierdie “dood vir die wet” beteken egter nie dat ek nou kan doen wat ék wil en lewe soos ék wil nie. Paulus verkondig nie hier wetteloosheid nie; maar eerder dat die wet nie meer mag oor my het om jy aan te kla en te veroordeel nie, aangesien Jesus Christus klaar die aanklagtes aangehoor en die straf in my plek gedra het. Die loon vir die oortreding van die wet, is die dood (Romeine 6:23) en daardie doodsvonnis in namens my deur Christus gedra ... en daar waar die vonnis uitgedien is, is die skuld verwyder. So het Christus dan die oordeel van die wet in my plek gedra en staan ek voor die Here vry van die oordeel wat die wet meebring. Nou is ek vry! Vry, nie om te doen wat ek wil nie, maar om te doen wat jy Verlosser wil. Daarom gaan Paulus in vers 19-20 verder en sê: “... deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lewe.


    Hierdie gedagte verduidelik die apostel Paulus baie meer breedvoerig in sy brief aan die Romeine. In Romeine 6-7 gebruik die apostel twee voorbeelde om hierdie lewe tot eer van God te verduidelik:

    • Die eerste is die voorbeeld van slawe (Rom. 6:15-23). Hy wys vir ons daarop dat almal van ons óf slawe is van die sonde óf slawe is van God. ‘n Slaaf lewe nie vir homself nie, maar lewe om die wil van sy eienaar te doen en om die loon daarvoor te ontvang. Die sonde is ‘n slawedrywer en die loon wat die sonde bring is die dood (Rom. 6:23). Maar deur Christus is ons losgekoop uit die slawerny van sonde en het ons nou slawe geword van ‘n nuwe Eienaar, naamlik Jesus Christus self wat vir ons betaal het my sy eie bloed, soos Petrus dit stel in 1 Petrus 1:19. Dus, ons vryspraak beteken ‘n lewe tot eer van God. 
    • Die tweede voorbeeld wat Paulus gebruik in Romeine 7:1-6 is dié van ‘n man en vrou. ‘n Vrou is aan haar man verbind vir solank as wat haar man lewe. Vroeër was die sonde ons “man” gewees en het ons die wil van die sonde gedoen; maar deur die kruis van Christus het ons saam met Hom gesterf vir die sonde en daarom is die sonde nie meer ons man nie. Maar nog meer, deur die opstanding van Christus het Hy ons nuwe Man geword aan wie ons gehoorsaam moet wees. Die kerk is immers die bruid en Christus die Bruidegom. 


    Ons lewe dus in gehoorsaamheid aan die wil van God, nie omdat ons daardeur verlossing kan verdien nie; maar omdat ons juis dankbaar is vir die verlossing wat ons ontvang het deur Jesus Christus. Hierdie verlossingswerk is immers genade van God (Gal. 2:21) – onverdiende guns alleen. 


    SLOT

    Hoe bewus is jy van die grendelstatus van die sonde? Het jy al op die punt gekom waar jy besef dat jy ‘n gevangene is van sonde, geboei met die kettings daarvan en op reis na die ewige verdoemenis? Het jy al besef dat jy nie self van hierdie kettings kan loskom of daarvan kan ontslae raak nie, maar dat die las daarvan al hoe swaarder word? Indien nie, hoor die oproep van die Woord van die Here: “Word wakker! Ontwaak en staan op uit die dood! Hardloop na die nou Poort toe, die Poort wat na die lewe lei. Gaan gryp vas aan die kruis en die verlossingswerk van Jesus Christus. En moenie langer in diens van die sonde lewe nie, maar lewe tot eer van God!” Amen. 

    1. Galasiërs 2:11-14 - Wanneer die Evangelie aangeval word, gaan ons verder en smoor die dwaling in die kiem

      INLEIDING

      Wie se eer is vir jou belangrik? Of anders gestel: wie vrees jy meer – mense of God? 


      In Gal. 2:11-14 lees ons hoe die vrees vir mense die deur oopgemaak het vir dwaling om in ‘n gemeente in te sluip, maar ook deur die genade van die Here, hoe daardie deur ook vinnig toegemaak was deur die ontbloting van die dwaling. 


      Die apostel Paulus wys vir ons in sy brief aan die Galasiërs hoe ons te werk moet gaan wanneer die Evangelie aangeval word. In hierdie verse plaas hy die klem onder die inspirasie van die Heilige Gees dat daar nie met dwaling gespeel word nie, maar dat dwaling in die kiem gesmoor moet word. Dit doen hy aan die hand van drie tonele:

      ·       Toneel 1: Petrus se optrede saam met die nie-Joodse gelowiges

      ·       Toneel 2: Petrus se optrede wanneer die Joodse gelowiges kom

      ·       Toneel 3: Paulus se reaksie op Petrus se optrede


      TONEEL 1: PETRUS SE OPTREDE SAAM MET DIE NIE-JOODSE GELOWIGES

      In Gal. 2:12 vertel Paulus hoe Petrus saam met die nie-Joodse gelowiges in die gemeente van Antiochië geëet het. Hierdie is ‘n belangrike stelling, aangesien die Jode gewoonlik nie saam met die nie-Jode geëet het nie. Die rede hiervoor was dat die Jode die nie-Jode as “onrein” beskou het en daarom nie deur kontak met hulle self onrein wou word nie. 


      Maar die Here het aan Petrus in Hand. 10:9-16 daarop gewys dat Hyself hierdie onderskeid opgehef het. Petrus het hom op daardie stadium in die stad Joppe bevind. Terwyl hy gebid het, het hy ‘n visioen gesien van die doek wat neerdaal uit die hemel met allerlei onrein diere daarin. Hy het ook ‘n stem gehoor wat sê: “Kom Petrus, slag en eet.” (Hand. 10:13) Hiervan wou Petrus niks weet nie, maar die stem het weer gesê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.” (Hand. 10:15). Later het Petrus besef wat hierdie visioen beteken toe hy aan huis van Kornelius, ‘n Romeinse kaptein, was. Sy openingswoorde van sy preek in die huis van Kornelius vind ons in Hand. 10:28: “Julle weet dat ‘n Jood nie met iemand van ‘n ander volk mag omgaan of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie.”


      Dus, later toe Petrus in Antiochië kom, het hy ook nie geskroom om saam met die gelowiges uit die nie-Jode te eet nie. Hy het verstaan dat die genade van die Here nie net beperk was tot die Joodse volk nie, maar ook uitgekring het na die ander volke toe. 


      Hier moet ons ook ons eie hart toets: Hoe kyk jy na ander mense? Erken jy dat Christus nie net vir jou en jou volk gesterf het nie; maar ook vir ander mense en die volke waartoe hulle behoort? Kom ons maak dit baie prakties: Sal jy bereid wees om saam met ‘n swart of kleurling of Indiër te eet, as julle broers in die geloof is, of nie?


      Maar ten spyte van die feit dat Petrus se denke op hierdie saak reg was, sien ons dat hy tog ook geswig het voor mense in toneel 2. 


      TONEEL 2: PETRUS SE OPTREDE WANNEER DIE JOODSE GELOWIGES KOM

      Gal. 2:12 gaan verder en vertel van hoe daar mense uit die groep van Jakobus hulle gekom het en hoe Petrus en van die ander gelowiges se optrede en houding teenoor die Joodse gelowiges verander het. 


      Hier moet ons egter op die volgende let. Wanneer Paulus praat van die “mense van Jakobus” moet ons versigtig wees om nie dit wat hierdie mense voorgestaan het, net so toe te skryf aan Jakobus self nie. Ons lees dat hierdie mense “voorstanders van die besnydenis” was. Met ander woorde, hulle het van die nie-Joodse gelowige verwag om besny te word ter wille van verlossing. Maar wanneer ons Jakobus se brief in die Nuwe Testament lees, vind ons geen verwysing na die besnydenis of dat dit nog moes plaasvind nie. Dus, hierdie was waarskynlik mense wat hulle geskaar het by Jakobus hulle en selfs dat posisies van leierskap gehad het, maar ‘n valse evangelie voor gestaan het. 


      Wat egter belangriker is om raak te sien, is hoe Petrus, Barnabas en van die ander gelowiges se optrede verander het. Ons lees: “... Maar toe dié mense daar aankom, het hy (Petrus) hom onttrek en hom eenkant begin hou, omdat hy bang was vir die voorstanders van die besnydenis.” (Gal. 2:12). En dan sien ons dat die ander Joodse gelowiges Petrus se voorbeeld hierin gevolg het, onder andere ook Barnabas wat saam met Paulus se eerste sendingreis onder die heidene onderneem het (Gal. 2:13; vgl. ook Hand. 13:1-4).


      Wat sien ons hier gebeur? Alhoewel Petrus geweet het wat reg was, nl. dat God nie onderskeid maak tussen volke in Christus nie; het hy in sy hart die begeerte gehad na die eer van mense, eerder as na die eer van God. Daarom het hy bang geword vir mense en die reaksies van mense; in plaas daarvan dat hy standpunt ingeneem het omdat hy die Here meer vrees. Ons sien dus iets van die sondige hart van die groot apostel na die oppervlak toe kom. 


      Maar hierin lê daar ook ‘n waarskuwing vir ons: Wie vrees jy meer – mense of vir God? Wie se eer is vir jou meer belangrik – dié van mense of van God? Wie se roem soek jy – die roem van mense of die goedkeuring van God? 


      Jy sien, die etenstafel was maar net die omstandighede wat die sonde in Petrus se eie hart na vore gebring het; en so is daar ander plekke en omstandighede wat die sonde van jou en my hart na vore bring. Dink vir ‘n oomblik aan een sonde waarmee jy die meeste sukkel en vra vir jouself: Wanneer is hierdie sonde vir my die grootste versoeking? Wat is die omstandighede waarin ek die maklikste toegee vir versoeking? 


      Wat ons egter ook hier moet raaksien is dat Petrus se vrees vir mense die deur vir dwaling oop gemaak het. Sy optrede het gewig gegee aan die argumente van julle wat sê dat ons deur die onderhouding van die wet gered moet word en dat Christus nie genoeg is nie. So stroom daar vandag steeds dwaling in talle gemeente is omdat die Vrees vir mense die deurwag is; eerder as die Vrees vir God. 


      Tog sien ons ook deur die genade van die Here dat Paulus nie stil bly nie. 


      TONEEL 3: PAULUS SE REAKSIE OP PETRUS SE OPTREDE

      In Gal. 2:14 spreek Paulus hierdie sondige optrede van Petrus en die ander gelowiges aan. 


      Dink vir ‘n oomblik aan wie die persoon is wat hier opstaan om te praat: dit is Paulus, die Fariseër! Hierdie is die man wat eens op ‘n tyd in sy ywer vir die wet en die oorgelewerde gebruike die kerk wou uitwis. Hy staan op en wys uit dat die besnydenis en die Joodse gebruike geen krag het nie en daarom nie die oorsaak mag wees vir die optrede van Petrus hulle nie. 


      In sy vrae aan Petrus kom ontbloot hy die sonde van die hart: As jy wat ‘n Jood is nie meer aan hierdie gebruike hou nie, waarom verwag jy dat nie-Jode dit moet nakom? Petrus jou vrees vir mense maak van jou ‘n skynheilige! Jy verkondig een ding, maar jou optrede sê iets anders. 


      Wat Paulus besig was om hier uit te wys, is dit: die Joodse gebruike het geen krag om iemand te verlos nie, en daarom mag niemand gedwing word om dit na te kom nie. Kom ons kom na vandag se situasie toe. Net omdat iemand ander gebruike het as ons, beteken dit nie dat hulle verlore is nie. Bv. aanbiddingwyses, ja, daar is duidelike riglyne in die Skrif wanneer dit kom by aanbidding en nie alles wat vandag bekend staan as “aanbidding” is aanbidding van die Here nie; maar kom ons gestel twee gemeentes kom al die beginsels van die Skrif na en die een kies om net psalms te sing en die ander psalms en geestelike liedere, dan is beide aanvaarbaar vir die Here. Maar as die gemeente wat psalms en geestelike liedere sing aan die gemeente wat net psalms sing sê dat hulle ook geestelike liedere moet sing, anders is hulle nie gered nie; maar hulle van aanbidding ‘n plus by die verlossingswerk van Christus. So is daar baie gebruike wat in gemeentes en tradisies wat nie verkeerd is nie; maar dit mag nooit ‘n voorwaarde vir verlossing word nie. 


      Ons word immers alleen op één manier verlos, en dit is deur die verlossingswerk van Jesus Christus aan die kruis op Golgota, deur sy opstanding uit die dood en deur die krag van die Heilige Gees wat ons tot die nuwe geestelike lewe wek. Hierdie is die Evangelie, en enige iets anders wat bygevoeg word naas die kruis vir verlossing is ‘n valse evangelie wat in die kiem gesmoor en uit die gemeente verwyder moet word. 


      SLOT

      Om af te sluit, as Christus jou Verlosser is, dan hoef jy geen mens te vrees nie. Hy is groter en sterker as enige mens. Maar dikwels vrees ons mense omdat ons vergeet wie Christus is. Daarom moet ons deur die bestudering van die Woord keer op keer daarvan herinner word dat hierdie Jesus die Seun van God is wat vir jou en my mens geword het, ons straf gedra het en vir ons die dood oorwin het. Hiervoor is ons lojaliteit verskuldig aan Hom, nie aan mense nie. Want dis wanneer ons mense eerder vrees, dat ons die kudde van die Opperherder in gevaar stel, deur die hekke oop te maak vir die wrede wolwe van dwaling ... en dit mag ons nooit doen nie. Mag die Here ons Verlosser ons die krag geen om staande te bly voor mense, sodat ons mag kniel voor ons God en Here. Amen. 

      1. Galasiërs 1:11-2:2 - Wanneer die Evangelie aangeval word, begin ons hier: Ons getuig van die oorsprong van die Evangelie

        INLEIDING

        Ons ken almal die spreekwoord: “Vat aan my vrou of kinders, dan vat jy aan my.” In ‘n sekere sin was dit waar in die apostel Paulus se lewe ook. Hy het wel nie ‘n vrou of kinders (biologies) gehad nie, maar vir hom was die Evangelie sy grootste skat. Lees jy deur die ander briewe van Paulus sal jy sien dat hy ‘n wavrag van swaarkry ervaar het ter wille van die Evangelie (2 Kor. 11:23-30). Hy het al hierdie lyding ter wille van Christus verduur en gedra in die wete dat die heerlik wat wag die lyding wat ons op aarde ervaar ver te bowe gaan (Rom. 8:18). 


        Maar die een saak waarvoor Paulus geen geduld gehad het nie, was mense wat die Evangelie verdraai het en so sy medegelowiges na die afgrond probeer sleep het. Om hierdie rede reageer hy reguit en skerp in sy brief aan die Galasiërs wanneer hy oor hierdie valse leraars met hulle vervloekte evangelie praat. 


        Een van die argumente wat hierdie valse leraars aangevoer het, was dat die Evangelie van Paulus nie vertrou kon word nie, omdat dit verskil met dié van die ander apostels. Hierdie was egter net ‘n dekmantel om ‘n valse evangelie van verlossing deur middel van werke in te smokkel in die gemeentes. 


        Daarom wys die apostel in Galasiërs 1:11-2:2 daarop dat die Evangelie wat hy verkondig nie net dieselfde is as dié van die apostels nie, maar nog meer, sy oorsprong vind in Christus self!


        Hierin sien ons hoe Paulus, wanneer die Evangelie aangeval word, getuig van die oorsprong van die Evangelie – en hy doen dit deur terug te kyk na sy eie lewe ...


        DIE WARE OORSPRONG VAN DIE EVANGELIE

        In Galasiërs 1:11-12 stel Paulus dit onomwonde dat die Evangelie wat hy verkondig van Christus self kom. Hy skryf: “Dit moet julle goed besef, broers: die Evangelie wat ek verkondig, is nie deur ‘n mens uitgedink nie. Ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang nie of my ‘n mens geleer nie. Inteendeel, Jesus Christus het dit in ‘n openbaring aan my gegee.”


        Paulus beklemtoon drie sake:

        • In die eerste plek, die ware Evangelie is nie die produk van menslike denke nie. Daar is baie sg. “geleerde teoloë” wat meen dat die Evangelie, veral die dele wat handel oor die wonders daarvan, soos die maagdelike geboorte en liggaamlike, sigbare en fisiese opstanding van Christus maar net “gemeente teologie” was; d.w.s. stories wat die apostels om die kampvuur uitgedink het. Maar die apostel stel dit duidelik: hierdie Evangelie is nie deur enige mens uitgedink nie!
        • In die tweede plek, Paulus was nie ‘n dissipel van enige mens wanneer dit by die Evangelie gekom het nie. Dus was die Evangelie wat hy ontvang het, nie beïnvloed deur menslike voorkeure nie. Vandag kry jy dikwels gelowige (dalk onsself) wat ‘n standpunt handhaaf wat geen Bybelse gronde het nie. Hulle (ons) glo dit omdat dit deur iemand – hoe vroom en godsdienstig die persoon ook al mag gewees het – aan ons geleer is. Maar Paulus wys daarop dat hy nie die leer van mense / die verstaan van die Evangelie soos deur apostel so of so, verkondig nie. Hy verkondig die Evangelie soos van Christus ontvang. 
        • En dit bring ons dan by die derde punt wat hy hier maak, nl. dat hy die Evangelie van Christus self ontvang het. Christus is die oorsprong daarvan. Presies wanneer dit gebeur het, is ons nie seker nie. Sommige meen dat dit in Damaskus was nadat die Here op pad daarheen aan hom verskyn het, ander meen dat dit tydens die drie jaar in Arabië was (Gal. 1:17). Hoe dit ook al sy, Paulus stel dit duidelik dat Christus self vir hom die Evangelie geleer het. 


        Om hierdie spyker diep in die denke van sy lesers in te hammer, kyk hy terug oor sy eie lewe. 


        PAULUS, DIE VYAND VAN DIE EVANGELIE

        Paulus kyk terug na ‘n tyd in sy lewe wat sy hele lewe lank by hom sou bly en telkens sou herinner aan sy eie nietigheid en die grootheid van God se genade in sy lewe. In Galasiërs 1:13-14 wys hy terug na die tyd wat hy as die vervolger van die kerk, probeer het om die Evangelie uit te wis. Op hierdie punt in sy lewe was hy heilig daarvan oortuig dat hy God ‘n guns bewys deur die vervolging van die kerk, dat hy uitgestyg het bo baie van sy leeftyd as ‘n fanatieke yweraar vir die oorgelewerde gebruik van die voorvaders (Gal. 1:14). 


        Nou kyk hy egter terug en erken sy sonde. Hierdeur kom stel hy ‘n vraag aan sy lesers: “As ek eens op ‘n tyd die Evangelie fanaties probeer uitroei het – ek ‘n kenner van die Joodse Skrifte – waarom sou ek hierdie Evangelie verkondig as dit nie ooreenstem met die waarheid wat in die Skrifte verkondig word nie?” Dit maak mos net nie sin nie. Al wat sin sou maak in Paulus se lewe, was dat die Evangelie wat hy verkondig het werklik die waarheid is en dat hy dit ontvang het soos hy meld in vers 11 en 12. 


        Dus, hierdie valse leraars wat ‘n ander evangelie verkondig is eerder die skuldiges. Dit is húlle wat ‘n mensgemaakte en daarom vervloekte boodskap verkondig. Die oorsprong daarvan is hulle eie sondige hart en met vurktonge saai hulle ‘n giftige boodskap wat niks ander kan doen as om mense na die hel te sleep nie. 

        Hierdie is egter ook ‘n gevaar vandag en hierin is daar twee waarskuwings:

        • Aan die een kant die vraag: Waarom glo jy wat jy glo? Word die inhoud van jou geloof bepaal deur die Bybel, of deur wat mense sê?
        • Aan die ander kant die opdrag: Toets elkeen wat meen dat hy die ware Evangelie verkondig ... toets dit aan die Bybel. As dit daarmee ooreenstem, volg dit na; maar as dit verskil of in stryd staan daarmee, verwerp dit. 


        Dus, in die eerste plek getuig Paulus van die oorsprong van die Evangelie deur te kyk na sy tyd as vervolger van die kerk. Maar tweedens gaan hy verder en kyk ook na die tyd waarin Christus aan hom genade bewys het.


        PAULUS, DIE BEGENADIGDE

        Paulus besef dat die enigste rede waarom hy van vervolger na verkondiger van die Evangelie kon gaan, was die genade van die Here. Hierdie waarheid beklemtoon hy twee keer:

        • Hy skryf: “Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder ...” (Gal. 1:15). Die feit dat Paulus ‘n verkondiger van die Evangelie geword het, was nie maar blote toeval nie. Hy het nie eendag opgestaan en gedink om van “werk” te verander nie. Nee, die feit dat hy die apostel “onder die heidennasies” sou word (Gal. 1:16) was ‘n besluit van God. Hierdie is ‘n kenmerk van ‘n ware verkondiger van die Woord – dit is nooit jou eie keuse nie! ‘n Paar jaar gelede het ek gehoor van ‘n predikant wat predikant geword het aangesien hy “al die ander dinge al probeer het”. Nee! As jy nie gedring word soos Jeremia wat sê “... wanneer ek dink ek sal my aan Hom nie steur nie en nie meer in sy Naam praat nie, dan word dit in my soos ‘n vuur wat brand en waarvan ek nie kan loskom nie” (Jer. 20:9), dan bly hy weg van die bediening as leraar. Charles Spurgeon skryf in sy Lectures to my students: “As enige student in hierdie klaskamer tevrede is om ‘n koerant redakteur, of ‘n winkelbestuurder, of ‘n boer, of ‘n dokter, of ‘n prokureur, of ‘n staatsbeampte, of ‘n koning te wees, in die naam van hemel en aarde, laat hom sy weg gaan; hy is nie ‘n man in wie die Gees van God in sy volheid woon nie, want ‘n man so gevul met God sal dit ‘n uiterste moeite vind om enige ander werk te doen, behalwe vir dit waarna sy gees smag.”
        • Paulus gaan verder in Galasiërs 1:15 en skryf: “... en Hy het my in sy genade geroep.” Die feit dat Paulus, die vervolger van die kerk, verander het, was uit en uit genade op genade. Dit was deur die werk van die Heilige Gees dat sy harde hart verander het, sag gemaak was en nuwe lewe daarin gewek is. En dit is nie net waar van Paulus nie, maar ook van elke gelowige – ook ek en jy. Ons glo nie uit onsself nie, maar omdat God ook aan ons genade bewys het en steeds bewys. Genade wat ons sien in die kruis van Christus. Genade wat ons ervaar in sy bloed. Genade wat ons kan vashou in die Evangelie van die lewende Here. 


        Hierdie genade, sê Paulus, het hy ontvang met die doel om die apostel “onder die heidennasies” te word. Ons hoor dit alreeds in Christus se woorde aan Ananias in Handelinge 9:15: “... Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel”. Dit is iets wat Paulus ook telkens na verwys in sy briewe, hier in Galasiërs 1:16 en 2:8, maar ook in Ef. 3:8. 


        As apostel was Paulus deur Christus self geroep om die Evangelie onder die heidennasies te verkondig – ‘n roeping wat nie eers bevestig moes word deur mense nie. Daarom het hy nie eerste Jerusalem toe gegaan waar die apostels was nie, maar vir drie jaar na Arabië en daarna terug na Damaskus. 

        Maar dit het nie beteken dat Paulus gedink het dat hy alleen die enigste apostel was, of alleen die Evangelie kon verkondig nie. Hy was deel van ‘n groep en daarom het hy ook later met die ander apostels ontmoet. 


        Dus getuig Paulus van die oorsprong van die Evangelie deur te kyk na sy lewe as vervolger en begenadigde; maar laastens ook as medewerker van die ware Evangelie. 


        PAULUS, DIE MEDEWERKER

        In Galasiërs 1:18-2:2 wys Paulus daarop dat hy na sy drie jaar in Arabië, na Jerusalem gegaan het. By hierdie geleentheid het hy Petrus (Sefas is sy Joodse naam) ontmoet wat die leier van die apostels was, en ook Jakobus (nie die apostel nie, want dié het al gesterf het eerste martelaar van die apostels) maar die halfbroer van die Here Jesus wie se brief ons ook as deel van die Nuwe Testament besit. 


        Die rede vir hierdie besoek was heel waarskynlik om van sy eie bekering te getuig en ook te vertel wat Jesus aan hom tydens die drie jaar gewys het. 


        Van Jerusalem het hy via Sirië noord van Palestina na Silisië gereis en daarin in Tarsus, sy geboortestad gaan werk. Hiervan lees ons in Handelinge 9:30. Die nuus van Paulus se bekering het in die tussentyd begin versprei en die gelowiges wat daarvan gehoor het, het die Here verheerlik vir hierdie groot wonder (Gal. 1:23-24). 


        Barnabas het later vir Paulus in Tarsus gaan haal en hulle het ‘n tyd lank saamgewerk in Antiochië in Sirië. Dit is uit hierdie gemeente wat Paulus en Barnabas uitgestuur is op die eerste sendingreis waartydens hulle kontak gemaak het met die gelowiges aan wie Paulus in hierdie brief skryf en waarvan die meeste onder die bediening van Paulus en Barnabas tot bekering gekom het. 

        Na die sendingreis is hulle terug na die gemeente wat hulle uitgestuur het. Veertien jaar na die eerste ontmoeting in Jerusalem, het Paulus saam met Barnabas en Titus terug gegaan na Jerusalem. Die doel van hierdie besoek meld hy in Galasiërs 2:2: “... Ek het toe die Evangelie wat ek onder die heidennasies verkondig, aan die broers daar voorgelê en dit nog afsonderlik met die leiers bespreek. Ek wou sekerheid hê dat ek nie tevergeefs werk of gewerk het nie.” 


        Die argument wat Paulus voer dit: Hy was eers ‘n vervolger van die kerk wat deur die genade van die Here tot bekering gebring is en die opdrag ontvang het om die ware Evangelie onder die heidennasies te verkondig. Hierdie Evangelie wat hy verkondig het hy nie self uitgedink nie, maar van Christus self ontvang. Dit is dieselfde Evangelie wat deur Petrus en die res van die apostel verkondig is.


        Dus, wanneer die Evangelie aangeval word, begin ons hier:

        ·       Ons fokus op Christus;

        ·       Ons anker onsself in die waarheid;

        ·       Ons getuig van die oorsprong daarvan. 


        SLOT

        Om af te sluit, die Evangelie wat deur die apostel Paulus en die ander verkondig is en vir ons opgeteken is in die Bybel is die enigste, betroubare en suiwer Evangelie. Die vraag waarvoor hierdie deel ons bring, is dit: Glo jy hierdie Evangelie?! 


        Ondersoek jou hart. Glo jy dat Jesus die Seun van God deur die Vader gestuur is om ook vir jou sondes aan die kruis te sterf? Glo jy dat Jesus aan die kruis die volle prys vir jou sondes betaal het en dat daar niks meer is wat jy kan doen of bydra vir jou verlossing nie? Glo jy dat hierdie Jesus nie net vir jou gesterf het nie, maar ook deur die krag van God uit die dood opgewek is en so die mag van die sonde en die dood ook oor jou lewe gebreek het? Salig is elkeen wat die woorde van die Evangelie, dit ter harte neem en deur die krag van die Gees dit verdedig en daarvolgens lewe. Amen.


         Met “volheid” bedoel Spurgeon nie hier dat die Gees net in sommige gelowige woon of net gedeeltelik nie. Die verband stel dit duidelik dat hy hier verwys na die bekragtende werk van die Gees wat noodsaaklik is vir die bediening. 

         Sprugeon, C.H.  2008.  Lectures to my students.  Finland: Christian Heritage, p. 30.

        1. Galasiërs 1:6-10 - Wanneer die Evangelie aangeval word, begin ons hier: Ons anker onsself in die waarheid

          INLEIDING

          Die apostel Paulus skryf die brief aan die Galasiërs aan ‘n groep gelowiges wat destyds in Klein-Asië, vandag Turkye, ‘n gat in die kop gepraat is deur valse leraars wat ‘n valse evangelie aan hulle verkondig het. Hierdie nuus het die oor van Paulus bereik. Bewus van die gevare, het die apostel dadelik die pen opgeneem om die ware Evangelie wat aangeval was, te verdedig en die valse evangelies te ontbloot vir die leë, nuttelose, vervloekte boodskap wat dit is. 


          Die eerste ding wat hy in die inleidingswoorde van sy brief doen, is om die gelowiges in Galasië se fokus weer terug te kry op Christus en weg van hulleself. Daarom beklemtoon hy in die eerste verse van die brief dat Christus:

          ·       Vir ons sondes gesterf het;

          ·       Deur die Vader uit die dood opgewek is;

          ·       En so die verlossingsplan van God uitgevoer het. 


          Hierdie punte vorm die kern van wat Paulus “dié Evangelie” noem. Daarom, enige iets wat van hierdie kern afwyk, bestempel Paulus as “’n ander evangelie” (Gal. 1:6) en “’n evangelie wat in stryd is” (Gal. 1:9) met die Evangelie wat deur die apostels aan hulle verkondig en in die Bybel neergepen is. 


          Maar Paulus gaan verder. Nie net fokus hy weer die aandag van die gelowiges op Christus as enigste Verlosser nie, hy anker die gelowiges in die ware, onvervalste, suiwer Evangelie in Galasiërs 1:6-10. Daarom, wanneer die Evangelie aangeval word, begin ons hier: ons anker onsself in die waarheid. Waarom? Omdat slegs die ware Evangelie die eer aan God gee vir ons verlossing en die instrument is wat die Here gebruik om geloof te wek. 


          Om hierdie rede sien ons dat Paulus in hierdie verse:

          ·       Die ware Evangelie bevestig as die enigste van sy soort;

          ·       Die vloek uitspreek oor elke valse boodskap.


          DIE ENIGSTE WARE EVANGELIE

          Een van die uitstaande kenmerke van die brief aan die Galasiërs is die afwesigheid van ‘n dankgebed aan die begin van die brief. In al sy ander briewe aan die gemeentes begin Paulus altyd met ‘n danksegging aan die Here vir die gelowiges – selfs in die briewe aan die gemeente in Korinte wat vir Paulus maar baie probleme veroorsaak het. Maar die brief aan die Galasiërs begin met ‘n harde woord: “Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ‘n ander evangelie aanneem. Daar is geen ander evangelie nie!...” (Gal. 1:6-7)


          Hierdie gelowiges het ‘n boodskap aanvaar waarvan die verlossing deur Christus alleen as hart, uitgeruk is. Deur die verloop van die res van die brief blyk dit dat die boodskap wat hierdie gelowiges aanvaar het, ‘n mens gemaakte evangelie was waar die mens homself kan red deur middel van die nakom van wette en ‘n goeie lewe – ‘n boodskap wat indruis teen die hele Skrif, die Ou en Nuwe Testament! Daarom dat die apostel so hewig reageer en sê dat daar geen ander evangelie is nie. Daar is net één Evangelie en één alleen! Dit was waar van die tyd toe Paulus hierdie brief neergepen het, en dit is steeds vandag waar. 


          Hierdie “ander evangelie” waarna Paulus verwys, sê hy is ‘n verdraaiing van die Evangelie van Christus (Gal. 1:7) en dit kan net een ding doen: verwarring saai. Dit kan nie red nie. Waarom? Omdat hierdie “ander evangelie(s)” nie Christus verkondig as die enigste Verlosser uit sonde en dood nie. 


          Vandag hoor ons steeds hierdie “ander evangelie” die rondte doen in verskillende vorme en kleure:

          • Daar is die valse evangelie van die voorsproedsteologie (health, wealth and prosperity gospel) wat meen dat Christus gekom het om jou die beste lewe hier op aarde te gee. Natuurlik vergeet hierdie valse leraars van dele soos Matteus 6:19: “Moenie skatte op aarde bymekaar maak nie ...”; en 1 Timoteus 6:6: “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het ...”; en ook vers 10: “Geldgierigheid is die wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal ...”
          • Dan is daar die valse evangelie van die “liewe-Jesus”-teologie waarin daar geen ruimte is vir ‘n God wat mense oordeel nie. Hierdie valse evangelie meen dat almal eendag op die nuwe aarde sal wees en niemand in die hel gewerp sal word nie. Moedswillig vergeet hulle van Skrifgedeeltes soos Johannes 3:36: “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op Hom”; en Hebreërs 10:31: “Dit is vreeslik om in die hande van die lewende God te val”; en Openbaring 20:15: “As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.”
          • Of ‘n laaste voorbeeld, die valse evangelie van sosiale verlossing wat meen dat Christus net gekom het om mense van sosiale onderdrukking te bevry en daarom aan die kant van die onderdrukte staan – ongeag of julle glo of nie. Maar weereens vergeet hierdie valse leraars dat Christus gekom het om ons van sonde, die Bose en die oordeel te verlos soos Efesiërs 2:1-10 dit so duidelik uiteensit. 
          • Tyd ontbreek om na al die ander valse evangelies soos die wit teologie, swart teologie, bevrydingsteologie en ‘n veelvoud van ander valse boodskappe te verwys. 


          Die punt wat Paulus hier in Galasiërs 1:6-7 onomwonde duidelik en reguit sê is dit: Daar is net één ware Evangelie waar die kruis en die leë graf van Christus die hartklop is. Dit is in hierdie Evangelie wat ons onsself moet anker. 


          Maar wat dan van die “ander evangelie(s)” en dié wat dit verkondig? Hierdie vraag beantwoord Paulus spesifiek in verse 8-9 en dit is na my mening van die hardste woorde in die hele Bybel.


          VERVLOEK IS ELKE ANDER BOODSKAP

          Ons hoor in Galasiërs 1:8-9 die heilige woede wat na vore kom in die hart van Paulus wanneer hy sien en hoor watter skade hierdie valse leraars met hulle valse evangelie berokken. Daarom skryf hy reguit: “Maar al sou een van ons (d.w.s. een van die apostels, of leraars van die gemeentes) of selfs ‘n engel uit die hemel aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het – die vloek van God sal hom tref! Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer: As iemand aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het p  die vloek van God sal hom tref!” (Gal. 1:8-9)


          Daarom, so sê die heilige God en Here: Vervloek is elke valse leraar wat verwoesting met hul valse boodskappe saai. Vervloek is hulle in hierdie lewe en die volgende mits hulle tot inkeer kom en na Christus as enigste Verlosser toe vlug. 


          Maar kom ons let op ‘n paar sake in Galasiërs 1:8-9...


          In die eerste plek, let daarop dat die Evangelie wat Paulus van praat ‘n onveranderlike evangelie is. Hy sê “al sou een van ons”, met ander woorde, ‘n apostel of apostoliese medewerker of enige leraar “’n ander evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het ...”. Wat sê hy hierdeur? Hy wys vir ons dat die evangelie nie die menings en opinies van mense is wat vandag een ding sê en more ‘n ander nie. Soos ons, as die Here wil, volgende keer sal sien, is die bron van die Evangelie Christus self.


          Dit is tragies om te sien hoe vandag leraars wat vir baie jare die stryd gestry het, nou onder die druk van die samelewing swig en ‘n valse evangelie begin verkondig. Maar wat ons moet raaksien is dat die waarheid van die Evangelie nie bepaal word deur die een wat gestuur word nie, maar die Een wat stuur, nl. God self. Daarom moet elke leraar, ook in ons eie gemeente se boodskap deurlopend aan die Bybel getoets word, en sou dit bevind word dat dit nie die toets van die Skrif kan deurstaan nie, summier verwerp word as ‘n vervloekte boodskap. Om hierdie rede het ek al dikwels gesê, en sal ek aanhou sê as die Here my die genade daartoe verleen: “As ek nie vanuit die Skrif ‘n saak op ‘n eenvoudige wyse kan verduidelik en vanuit die Skrif wys nie, hoef julle my nie te glo nie.” Ek is nie hier om my idees en opinies te verkondig nie, maar die Woord alleen en volledig.


          In die tweede plek beklemtoon Paulus dat bonatuurlike openbaringe / drome / visioene, ens. nie waarheid van ‘n boodskap bepaal nie. Want hy sê “al sou ... ‘n engel uit die hemel ...” ‘n ander evangelie verkondig, dit steeds nie aanvaar mag word nie. Dit is veral belangrik vandag waar sogenaamde selfaangestelde profete en apostels van mening is dat hulle openbarings van God of engele ontvang het; maar wanneer daardie boodskap met die Skrif vergelyk word, hoor ons die draak praat en nie die Lam van Juda nie. Ons moet onthou, soos Paulus ook die gemeente in Korinte gewaarsku het, dat die duiwel homself as ‘n engel van die lig voordoen en sy volgelinge as dienaars van die Lig (2 Kor. 11:14-15). 


          In die lig van hierdie punte, is dit van uiterste belang om op die waarskuwing van Paulus ag te slaan in 1 Tessalonisense 5:21: “maar toets dit alles ...” en van Johannes in 1 Johannes 4:1: “... ondersoek elkeen ondersoek of sy gees van God afkomstig is.” Dit beteken dat ons ook voortdurend ons eie harte moet ondersoek, want die hart van die mens is geneig tot die sonde en daarom ook geneig om sy ore uit te leen aan valse evangelies. Daarom moet ons ook vandag vir onsself hierdie vraag vra: “Glo ek die ware Evangelie?” of ander gestel: “Is ek geanker in die waarheid?”


          SLOT

          Wanneer die Evangelie aangeval word, dan begin ons hier: 

          • In die eerste plek, kry ons ons fokus reg. Ons rig ons oë op Christus die Begin en Voleinder van ons geloof; maar ook 
          • In die tweede plek, anker ons onsself in die waarheid, aangesien daar net één Evangelie is, nl. dat ons verlos word nie uit ons werke nie, maar uit genade op grond van die verlossingswerk van Jesus Christus alleen. 


          Daarom, laat ons bid dat ons elke dag al hoe meer vasgemessel en geanker word in die ware, onvervalste, suiwer Evangelie; sodat ons dit kan verdedig deur die valse evangelies te ontbloot vir die leë, nuttelose en vervloekte boodskappe wat dit is. Dan sal God die eer ontvang. 


          Daarmee saam, laat ons ook bewus wees van die feit dat wanneer ons geanker is in die waarheid en die valse evangelies ontmasker ons ook teenkanting en weerstand sal ervaar, soos Paulus ook meld in Galasiërs 1:10. Maar wanneer daar teenkanting kom, laat ons nie ingee en swig voor die wêreld nie, maar die eer en guns van God bly soek. Amen. 

          1. Galasiërs 1:1-5 - Wanneer die Evangelie aangeval word, begin ons hier: Ons fokus op Christus

            INLEIDING

            Die brief aan die Galasiërs is geskryf na die afloop van die eerste sendingreis van Paulus en Barnabas. In Handelinge 13-14 lees ons hoe Paulus hulle die Evangelie gaan verkondig het op die eiland Siprus en ook in Klein-Asië.  Tydens hierdie reis het hulle skerp teenkanting ontmoet van die Jode se kant af, soveel so dat Paulus selfs in Listra deur die mense gestenig en vir dood gelaat is (Hand. 15:19). 


            Nadat Paulus hulle terug gekeer het na die gemeente wat hulle uitgestuur het, het hy nuus ontvang dat daar valse leraars was wat ‘n ander Evangelie aan hierdie nuwe gelowiges verkondig het na hulle vertrek. ‘n Evangelie wat leer dat jy jou verlossing kan verdien deur die na kom van wette en rituele. Om hierdie rede skryf Paulus dan die brief aan die Galasiërs. 


            In hierdie brief kom verdedig die apostel die ware Evangelie wat deur hom, Barnabas en die apostels verkondig was. Tog is die verdediging van die Evangelie nie iets wat uitgesterf het nie. Deur die eeue heen word die ware Evangelie aangeval en ondermyn deur ‘n legio van valse, nikswerd evangelies. Daarom, wanneer die Evangelie aangeval word, begin ons hier: ons fokus op Christus!


            Dit is presies waar Paulus dan ook in die openingsverse van sy brief begin: hy begin by Christus, die Een wat:

            ·       Vir ons sondes gesterf het;

            ·       Deur die Vader opgewek is;

            ·       Die raadsplan van God vervul het. 


            Wanneer die Evangelie aangeval word, begin ons hier: ons fokus op Christus – die Een wat vir ons sondes gesterf het. 


            CHRISTUS HET VIR ONS SONDES GESTERF

            Die apostel Paulus begin sy brief deur klem daarop te lê dat hy ‘n apostel is van Jesus Christus, die Een wat vir ons sondes gesterf het. Hy skryf in vers 4 dat Jesus Christus “Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld ...”. 


            Christus het Homself vir ons sondes gegee. Die kruis van Christus was nooit net ‘n opsie nie, maar ‘n noodsaaklikheid. Jesus Christus moes aan die kruis vir ons sondes sterf, want sonder die kruis is daar geen verlossing moontlik nie. Daarom is die kruis en die kruis alleen die hartklop van die Evangelie. Sonder die kruis is die Evangelie dood en kragteloos en kan dit niemand red nie. Soos Paulus dit later ook goed opsom in 1 Kor. 2:2: “Ek het my voorgeneem om oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel ook Hom as die Gekruisigde.”


            Daarom, daar waar die kruis verkondig word, is daar altyd hoop – hoop vir sondaars soos ek en jy. Laat ons dit goed verstaan: ons is sondaars en ons kan nie onsself red nie, maar nie saak hoe hard ons probeer nie. Niks wat ons kan sê of doen kan ons sondes uitvee nie. Ons sondes kan ook nie uit gebalanseer word op ‘n weegskaal met goeie dade nie, want selfs ons beste dade is besmet met sonde, omdat ons hart sondig is. Daarom wanneer ons ons beste dade voor God bring en die hoop dat dit ons sondes sal uitkanselleer, word daardie einste dade waarop ons vertrou juis op die skaal van sonde geplaas. 


            Ons het dus iemand nodig wat ons sondes kan wegneem – en dit is Jesus Christus, die Een wat Homself vir ons sondes gegee het. Aan die kruis het Christus al ons sondes – elke verkeerde gedagte, woord, daad, gesindheid, emosie, motief, ens. – van ons weegskaal kom vat en met dit aan die kruis gaan hang. Daar aan die kruis het die Vader ‘n ewigheid se straf wat ek en jy verdien het, kom uitgiet oor sy Seun. Op hierdie manier het Hy ons kom verlos ... verlos van ons sonde, sodat ons nou vir Hom kan lewe; verlos van die Bose, sodat ons onder sy heerskappy kan buig; verlos van die oordeel, sodat ons nou in ‘n herstelde verhouding met die Vader kan lewe. Ja, die Seun van God het neergedaal om deur sy kruis die verlore seuns en dogters van die Vader terug te bring na die Vaderhuis. 


            Daarom, moet die vraag gestel word: waarop of op wie fokus jy vir jou verlossing? As jy fokus op jouself, sal jy nie die ewige lewe instap nie, want jy is ‘n sondaar. As jy fokus op jou dade, sal jy nie die koninkryk beërwe nie, want jou beste dade is met sonde besmet. As jy vertrou op ander, sal jy die nuwe aarde nooit sien nie, want alle mense het gesondig en staan skuldig voor die Here. Maar as jy fokus op Christus, is daar hoop. Hy het immer belowe: “... Ek sal hom wat na my toe kom, nooit verwerp nie.” (Joh. 6:37).


            Dus, wanneer die Evangelie aangeval word, begin ons hier: ons fokus op Christus wat vir ons gesterf het. Maar verder, ons fokus ook op Christus wat uit die dood opgewek is.


            CHRISTUS IS DEUR DIE VADER OPGEWEK

            Paulus skryf in vers 2: “... Ek is ook nie deur ‘n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het.”


            Die kruis sou geen krag vir verlossing gehad het, as die Vader nie ook die Seun uit die dood opgewek het nie. Soos Paulus later in 1 Kor. 15:17 dit baie duidelik stel: “En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sonde.”


            Ons hoor vandag baie stemme wat beweer dat jy ‘n “Christen” kan wees, sonder om in van die kernwaarhede van die Christelike geloof, onder andere die fisiese, liggaamlike en sigbare opstanding van Christus, te glo. 


            Maar sonder die leë graf, beteken die leë kruis vir ons niks. Waarom? Omdat die opstanding van Christus juis bevestig dat die Vader sy offer vir ons sondes aanvaar het. Toe die aarde gebewe het daardie Sondag oggend na die kruisgebeure, was dit ‘n bevestiging dat die Vader saam met die Seun sê: “Dit is volbring!” Alles wat nodig was om ons uit die slawerny van die sonde, die Bose en die dood te verlos, is gedoen en aanvaar. Die Vader het die losprys vir jou en my uit die hand van sy Seun aanvaar. 


            Daarom is enige evangelie wat nie die kruis en leë graf verkondig nie, of dit afwater tot ‘n sy saak, of dit vervang met enige menslike voorkeure, ‘n dooie, nuttelose en leë evangelie wat niemand kan red nie. Daarom, wanneer die Evangelie aangeval word, begin ons juis hier: ons fokus op Christus, die gekruisigde en opgestane Here! Want die kruis en die leë graf is die hartklop van die ware Evangelie. 


            Maar laastens, ons fokus op Christus ook omdat Hy die raadsplan van die Vader volbring het.


            CHRISTUS HET DIE RAADSPLAN VAN GOD VERVUL

            Die apostel sluit vers 4 af met die woorde: “... en so (dit wil sê deur sy dood en opstanding) die wil van God ons Vader te volbring.”


            Met hierdie woorde bevestig Paulus dat die kruisgebeure nooit ‘n plan B was nie. Dit was van die begin as die Vader se plan A vir jou en my. Toe God die mens gemaak het, het Hy geweet dat die mens sal sondig. Waarom Hy toegelaat het dat die gebeur weet ons nie. Dit is deel van die geheimenis van God se alwysheid. Maar die feit bly, dat God nog voor die skepping van die wêreld besluit het dat sy Seun in die geskiedenis mens sou word en aan ‘n kruis vir jou en my sonde sal kom sterf. Soos Paulus dit stel in Ef. 1:4-5: “So het Hy (die Vader), nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.”


            Die kruis sou die goue draad wees wat deur die beloftes van God sou vloei. Die belofte van die koms van die Een wat die slang se kop sou vermorsel, Gen. 3:15, het gewys na die kruis. Die belofte dat al die nasie in Abraham geseën sal wees, Gen. 12:3, het gewys na die verlossing aan die kruis wat sou uitkring na alle volke, tale en nasies. Die belofte van die koms van die Dienskneg wat as Plaasvervanger sou ly, Jes. 53:1-7, het gewys na die kruispad. 


            Die kruis, die kruis, die kruis ... dit was God se plan van voor die begin van die wêreld af. Daarom is dit die hartklop van die ware Evangelie!


            Dus, hoe toets ons of ‘n boodskap die ware of ‘n valse Evangelie is? Ons gaan luister na wat die rol van die kruis is. As daardie evangelie die kruis afwater om vir jou net geluk en voorspoed hier op aarde te verseker, is dit vals. As daardie evangelie die kruis verminder van ‘n noodsaaklikheid tot ‘n opsie in jou lewe, is dit vals. As daardie evangelie die kruis afmaak as maar net God se “plan B”, dan is dit vals. Die kruis is die hoofslagaar, die hart, die asem vir die ware Evangelie – sonder die kruis is eie Evangelie dood!


            Dus, wanneer die Evangelie aangeval word, begin ons hier: ons fokus op Christus, die gekruisigde en opgestane Here, wat die raadsplan van die Vader volbring het. 


            SLOT

            Ons lewe in ‘n tyd waar die ware Evangelie nie ‘n populêre boodskap is nie. Mense wil nie hoor dat hulle sondaars is nie. Hulle wil nie hoor dat hulle skuldig staan voor God nie. Hulle wil nie hoor dat die hel ‘n werklikheid is nie. Maar hulle moet. Ons moet ten alle koste die ware Evangelie verkondig en standpunt in neem wanneer dit aangeval word. 


            Maar dit kan ons net doen as die Evangelie ons hart verander. Want ook jou en my sondige hart skop teen hierdie Evangelie en sou maklik dit verruil vir ‘n valse as dit die kans gegun word. Daarom, wanneer die ware Evangelie aangeval word, moet ons ons eie hart beoordeel en ons eie fokus reg kry. Ons moet fokus op Christus, die Een wat vir jou en my sonde gesterf het, vir ons die dood oorwin het, en so die raadsplan van die Vader vir ons verlossing volbring het. Dan sal ons ander kan help om hulle fokus ook reg te kry en getroue soldate van Christus wees op die slagveld van die geestelike stryd. Amen. 


            1. has joined the group.
            2. has joined the group.
            3. has joined the group.