• So moet julle bid - Matteus 6:5-15

    Jesus gee vir ons so 'n mooi voorbeeld van gebed wanneer Hy vir die dissipels die "Onse Vader" leer. Ons gebruik dit dikwels as 'n riglyn vir hoe ons moet bid en ek is seker ons kan 'n groot getal preke en boeke oor die onderwerp kry."


    Die "Onse Vader" is vir ons amper soos die inhoudsopgawe van 'n boek wat ons moet klaar skryf. Dit is 'n goeie riglyn om te volg in ons gebedslewe, en ons kan sekerlik in daardie manier bid. Instede van "daaglikse brood", kan ons noem wat ons nodig het. Inteendeel - ons behoort in ons gebede aan God bekend te maak wat ons nood is (Fil. 4:6). Maar dit is nie wat Jesus in hierdie spesifieke gebed bedoel nie. As ons kyk na die verse voor die Onse Vader, sien ons drie dinge wat Jesus noem:

    In die eerste plek - moet nie soos die skynheiliges op die straathoeke en die sinagoges bid sodat jy gesien word nie. Nou wil ek duidelik maak dat Jesus nie hier sê dat jy glad nie in die openbaar moet bid nie. Natuurlik kan jy in die openbaar bid, en ek dink ons moet die geleentheid gebruik om vir mense te bid wanneer ons die nood sien. Wat Jesus hier bedoel is dat ons nie moet bid om gesien te word nie. Gaan na jou binnekamer - daar waar jy nie hoë woorde hoef te gebruik om mense te beïndruk nie. Waar jy in nederigheid en eerlikheid tot God kan bid. Jou tong kan maar knoop en jou woorde kan ophou. God soek 'n eerlike hart - nie groot woorde nie. Jesus gee ons hierdie belofte: Die Vader wat in die geheim sien sal jou beloon. Daardie eerlike eenvoudige gebed sal deur die Vader geseën word.

    Dit bring ons dan by die tweede punt wat Jesus maak - moenie 'n klomp nuttelose woorde uitstort en hoop die Here hoor een van hulle nie. Dit is wat die heidene doen. Jesus verwys hier na die herhaling van woorde of singrepe wat nie sin maak nie. Hulle hoop dat deur die baie woorde hulle 'n beloning sal ontvang. Woorde wat net rondgegooi word in die hoop dat iets sal werk. Dit is soos 'n student wat twintig bladsye skryf vir 'n vraag wat net 'n paragraaf nodig het. Die Prediker (5:1) sê dit mooi: "God is in die hemel en jy is op die aarde - laat jou woorde daarom min wees." Die Here verkies 'n eerlike eenvoudige hulpgeroep. Jy gaan Hom nie oortuig met jou indrukwekkende gevleulde woorde nie. Hy sal luister na 'n hart vol ootmoed (Ps 51:19) en lippe van opregtheid (Ps 17:1).

    Daarom sê Jesus in die laaste plek - moenie soos hulle wees nie, want die Vader weet wat jy nodig het nog voor jy dit bid. Dit is hierdie woorde wat die eenvoud van die Onse Vader onderskraag. Ons kan bid vir ons daaglikse brood en absoluut vertrou dat die Vader ons geheime ken en weet wat ons nodig het nog voor ons vra.


    Die Onse Vader is 'n gebed van oorgawe. Dit is 'n gebed wat al die angs en bekommernis aan die Vader oorlaat, want Hy sien in die geheim en Hy ken ons nood. Die Here het nie nodig dat ons vir hom 'n lys gee nie. Hy wil hê ons moet erken dat ons Hom nodig het en op Hom vertrou. Gebed is eenvoudig. Dit is die maklikste ding om te doen. Laat ons dan tot Hom nader met harte van ootmoed en lippe van opregtheid.


    Rudolf

    1. My hart sing steeds: Jesus is my vaste hoop

      Terwyl ons so deur die Psalms werk word ek al hoe meer bewus van die digters se verskeie reaksies tot hulle omstandighede. Sekere van die skrywers reageer in oortuigende geloof, terwyl ander in verstommende verwardheid hulle twyfel in God se redding uitspreek. Tussen hierdie twee uiterstes is daar sommige wat glo in God se uiteindelike redding, maar onseker is oor die huidige realiteit daarvan. Dit is 'n vraagstuk wat die mensdom al vir duisende jare pla. Tog is daar 'n onderliggende waarheid waarop hierdie Psalms gebou word - God is.


      Selfs in verdrukking en diepe hartseer oor ongeregtigheid kan die digter nog sê: "Die dwaas sê in sy hart: 'Daar is geen God nie.'" Dit is uiteindelik die realiteit in hierdie lewe. Elke mens moet een of ander tyd gekonfronteer word met die waarheid: God is.


      In die wêreld word ongeloof geprys as rasioneel. Dit is die "moderne mens" wat nie gebind word deur sprokies en legendes nie. Tog sien ons in hulle optrede dat dit nie soveel 'n ongeloof in God is nie, maar eerder 'n woede om van God se reëls verlos te word. In Psalm 2 word die vraag gevra: "Hoekom gaan julle so tekere?" en later die antwoord "Hulle wil die juk van God en Sy Gesalfde afgooi."


      Ongeloof is nie so algemeen soos dit voorkom nie. Meeste mense is soos kinders wat hulle vingers in hulle ore druk en skree wanneer hulle iets nie wil hoor nie. Hierdie ongelowiges verwys natuurlik na die ergste pyn en lyding in die wêreld, en vra dan die vraag: "As jou God so goed is, hoekom kry Sy kinders swaar?"


      Die gelowiges kyk na dieselfde lyding en swaarkry, maar vra die vraag: "Wanneer gaan U ons red?" Die eenvoudige realiteit van hierdie lewe is dat ons in 'n gebroke wêreld lewe. 'n Wêreld wat deur die mens se sonde en begeertes vernietig word. 'n Wêreld wat onder die vloek van sonde verdruk word. Selfs in die tuin was die mens nie tevrede met al die ander goeie gawes nie. Nee - ons wou die verbode vrug eet. Dit was nie ongeloof wat ons oortuig het nie - dit was opstandigheid en selfregverdigheid.


      Dit is moeilik om te sing met al hierdie gebrokenheid rondom ons. Ons word oorweldig met slegte nuus en word depressief in ons onveranderde omstandighede. Die lewe is gebreek en daar is geen hoop nie.


      "God is - maar waar is Hy?, vra ek in wanhoop. Dan lees ek "Maar ons sien Jesus, met heerlikheid en eer gekroon, Hy wat deur sy lyding tot in die dood vir 'n kort rukkie minder as die engele gemaak is, sodat Hy, deur God se genade, ter wille van almal die dood sou ervaar. Dit was immers gepas dat Hy, vir en deur wie alles bestaan, ten einde baie kinders tot heerlikheid te lei, die Leidsman van hulle verlossing deur lyding tot volmaaktheid sou bring." (Heb. 2:9-10)


      Sekere tye reageer ek met oortuigende geloof. Ander kere met verstommende twyfel. Maar in die hoogte van my geloof of in die diepte van my wanhoop, kyk ek op na Jesus. Dan sing my hart steeds uit: "Jesus is my vaste hoop. Op Hom sal ek vertrou."


      Rudolf

      1. God wat vir ons veg

        In 1 Samuel 8 lees ons van die volk wat na Samuel toe kom met die versoek: "Gee vir ons 'n koning wat ons kan rig!" Dit ontstel Samuel, maar God sê vir hom: "Gee vir hulle wat hulle wil. Hulle verwerp nie vir jou nie, maar My as hulle Koning." Samuel probeer hulle eers oorreed om nie God as koning te verwerp nie deur vir hulle te wys hoe 'n mense koning hulle uiteindelik sal verdruk. Die volk verwerp Samuel se waarskuwing en sê: "Ons wil wees soos die ander nasies met 'n koning wat voor ons kan uitgaan en vir ons oorlog kan voer." Interessant in hierdie hele gedeelte is eintlik die vorige hoofstukke. In 1 Samuel 4 lees ons van die Filistyne wat teen die volk van God oorlog maak en hulle oorwin. Die volk besluit dan om die Verbondsark te gaan haal en saam in die oorlog in te dra. Die Filistyne is eers bang wanneer hulle hoor dat die Ark te midde van die volk is, maar uiteindelik oorwin hulle die volk en neem die Ark as buit. Dit alles gebeur terwyl Eli en sy seuns nog die volk rig as priesters. Die skok is so erg dat Eli dood neerval en sy skoondogter haar kind die naam gee "Ikabod", want die "eer is weggevat uit Israel". Dit klink asof die vyand oorwin het. Die identiteit van hulle aanbidding is weggevat! Maar die storie eindig nie by die oorwinning van die Filistyne nie. Nee - die volgende hoofstuk volg die Ark deur die landgebied van die vyand. Eers sit hulle die ark in die tempel van hulle god, langs sy beeld. Hulle vind die volgende oggend die afgod, op die grond neergeval voor die ark, met sy hande en kop afgebreek. Die stad word met siektes getref en hulle besluit om die Ark weg te stuur na 'n ander stad. Maar dieselfde gebeur daar. Die manne word met 'n plaag getref. Die Ark word na die volgende stad toe gestuur, maar die mense is teen dié tyd vreesbevange vir die Ark en hulle self word met 'n plaag getref. Uiteindelik besluit die Filistyne om die Ark terug te stuur. Hulle laai 'n wa met goud, sit die Ark daarop en laat twee koeie alleen die Ark wegvat, en deur die Here se leiding loop die koeie reguit na 'n stad in Israel toe. Vyf stede van die Filistyne was getref deur die Here en menigte van hulle mans was verslaan. Twintig jaar later word hulle weer deur die Filistyne verdruk. Terwyl Samuel besig is om offers te bring, trek die Filistyne teen Israel op, maar God tref hulle met donderslae en verslaan hulle. Hy het inderdaad gedoen wat die mense nie kon doen nie deur die vyand te oorwin. Hy is die Koning wat voor hulle uitgaan om oorlog te maak. Hy is die God wat vir hulle veg. Tog vra hulle vir 'n mense koning om Hom te vervang. Ons is ook partykeer so. Ons weet "God veg vir ons," in ons verstand, maar in ons hart beraam ons planne om self te veg. Ons soek mense leiers om voor ons uit te gaan. Ons stel Pastore aan wat die bidwerk doen. Ons sukkel om te verstaan dat God vir ons veg, net soos hierdie volk. God het meer Filistyne doodgemaak in die sewe maande wat die Ark alleen daar was, as wat die volk in die oorlog kon doen. Hy is 'n Vegter God wat voor Sy leermag uitgaan en vir Sy kinders veg. Ons sien Jesus - die Gesalfde Koning wat die grootste vyand van die mens oorwin. Hy staan in ons plek voor die sonde en die dood en oorwin albei aan die Kruis. As oorwinnaar stap Hy uit die graf uit en gaan sit Hy aan die regterhand van God. Ek wens ons kan begryp wat dit beteken dat God vir ons veg. Elke een van ons moet na die Here toe draai met ons harte en begin bid. Die Pastoor is nie die koning wat vooruit gaan nie. Hy is maar net 'n dienskneg van die Ware Koning - Jesus Christus, ons Here.

        Pastoor Rudolf Orsmond

        Mei 2023